X hits on this document

71 views

0 shares

0 downloads

0 comments

15 / 20

APRIL 2011

Thalassa, ons geliefde see!

...En elke maal, tot nou nog op my ou dag, elke maal as ek weer by hom kom – elke maal is die ou see maar weer nuut vir my. So grillig en buierig is hy. As jy hom nou sien is sy gesig éen grote glimlag tussen die diamante soos 'n groene golwende grasvlakte op 'n mooiweer-oggend in die vroeë lente met doudruppeltjies wat glinster tussen die blomme. En dan weer lyk hy so somber en weemoedig, die ou see, asof sy ouderdom hom neerdruk en hy is moeg, moeg, moeg vir die ou wêreld. En sy kleur is 'n sieklike asvaal nes 'n ou hoed of 'n maer volstruis wyfie s'n; en rimpels loop oor sy gesig

soheentoe en hiernatoe en dwars en oorkruis deurmekaar, en voor jy hulle kan naspoor om die patroon uit te maak is hulle weg en daar is weer ander, nog ouer; en sy ou stem is 'n klaaglied van eindelose wanhoop. En dan weer is hy in 'n moorddadige kwaai bui en hy skop en stamp en vloek en skel en hy dreig die arme geduldige ou kus en slaan met sy golwe daarop dat die dreun soos donderslae. Gister was hy 'n spelende, laggende suigeling; vandag is hy 'n wispelturige jong nooientjie wat wil hê en nie wil hê nie en uitsoek en laat staan en maar weer

uitsoek; more sal hy 'n afgeleefde ou man wees, soos

ek, met sy toekoms agter sy rug, en oormôre 'n woeste, dronke derduiwel.

En met al sy nukke en buie is dit hy wat die ewige en onveranderlike is. Berge spoel af in die vlaktes in en vlakke velde word opgehys; die aanskyn van wat vir ons die vaste aarde lyk verander gedurig – want dis altyd maar hier aan't bou en daar aan't afbreek, ongemerk maar onverbiddelik. Maar die ou see bly wat hy was deur die geologiese periodes heen.

So ontsaglik en so geheimsinnig – nooit is sy stem stil nie. Nou babbel hy en dan sing hy en dan raas hy en dan fluister hy. En ons mensies luister en luister om sy taal te leer en nog nooit is sy geheim aan ons geopenbaar nie.

A, die heerlike geure en kleure van hom en die verfrissende krag van sy lewe-

Page 15

gewende lug vir die arme moeggewerkte binnelander,

moeg van liggaam en moeg van gees; van dien of van beveel, van arbeid of ydelheid, van hoof of hart! Hoe beur hy jou nie op nie! Hy laat jou jonk voel asof jy die wêreld weer wil maak en breek soos in die dae voor jy beter wysheid geleer het. Jou bloed word sommer weer rooier; daar kom weer vuur in jou oog en olie in jou knieë. Ek kán nou eenmaal nie langes die strand loop met die besadigde waardigheid wat 'n grysaard pas nie. Jy moet my sien dans en huppel daar asof ek die brandertjies by hulle eie speletjies wil uitklop.

“My ou man sal nooit sy verspottigheid laat nie,” sê Vroutjie as ons by die strand is. Maar sy sê dit met 'n glimlag van liefde en sy lyk weer so mooi en so hups vir my net soos toe sy my nooi was en darem nog nie my nooi nie en haar gehou het asof sy nie lus had om ja te sê nie net om my vuriger te laat aanhou met soebat – dat ek haar met my ou arms om die lyf gryp en ek wil maar dwing om haar ook aan die dans te kry daar op die seesand.

A, jou ou grote, ontsaglike, ewige See! Jy is aanloklik, onuitputlik...

Uittreksel: ‘Sonde Met Die Bure’, 1921 C.J. Langenhoven

Document info
Document views71
Page views72
Page last viewedMon Dec 05 17:29:10 UTC 2016
Pages20
Paragraphs814
Words12158

Comments